As jou rekenaar ’n klankkaart het, luister jy vir ’n rukkie na tjankende Australiese wildehonde (dingo’s)...

Die Australiese inboorlinge (aborigines)

Mense uit die
Tyd van Drome

Die Tyd van Drome...Geleerdes reken dat hulle minstens 40 000 jaar gelede in Australië aangekom het—toe die węreld in die greep van ’n massiewe Ystyd was. Deur die eeue het hulle ’n ryk en omvangryke kultuur ontwikkel. Vandag kan ons darem nog die oorblyfsels daarvan sien—en boeiende vertellings oor die “Tyd van Drome” hoor—hoewel hul kultuur in die afgelope sowat twee eeue grotendeels vernietig is...

   Die Australiese inboorlinge vorm vandag ’n klein minderheid van die Australiese bevolking van 20 264 082 (raming vir Julie 2006). Die mense van Kaukasiese afkoms is in 2006 op 92 persent gestel en van Asiatiese afkoms op sewe persent, terwyl inboorlinge en andere maar ’n skamele een persent uitgemaak het.


Grafika hierby is na ons beste wete meestal histories en openbare besit (“public domain”) vanweë kopiereg-verjaring. Van hierdie grafika is ook deur ons gewysig. Andersins word die bron aangedui

L 

ANK, LANK gelede—lui die ou Australiese legende—was die hemele en die aarde een. Dit was voordat daar heuwels, riviere, plante, diere of mense was. Toe het die grond op sekere plekke oopgegaan en groot geeste het daaruit te voorskyn gekom.

Australiese krygsmanne van weleerDie geeste het sing-sing oor die land geloop en wat hulle ook al gesing het, het ontstaan. Hulle het die name van verskillende plante gesing—en die plante was daar. Hulle het gesing van voëls en vlinders en kruipende diere—en dié diere het gestalte gekry. Hulle het gesing van mense—en daar was mense.

Daarna het die geeste reëls vir al die lewende wesens neergelę, hulle aangesę hoe hulle teenoor mekaar en teenoor die grond moes optree. Die geeste het ook vir hulle rituele gegee wat hulle moes navolg om te verseker dat alle lewe bly voortbestaan.

Nadat hulle gesien het dat alles in orde was, het die geeste weer in die grond ingesink. Daar woon hulle tot vandag toe, en ’n mens kan van tyd tot tyd met hulle in verbinding tree wanneer jy raad nodig het.

Die verhaal van hierdie skeppingstyd, wat vertaal kan word met die Tyd van Drome, is die heiligste enkele mite in die kultuur van die Australiese inboorlinge. Dit vorm die kern van al hul tradisionele gelowe, gebruike en rituele.

Een van hul belangrikste beskouings is dat die grond waarop hulle woon nie aan hulle behoort nie, maar dat hulle aan die grond behoort.

Die koms van die Europese setlaars in Australië sowat 200 jaar gelede, die gevolglike beslaglegging op hul grond en middele, en die instelling van die Europese kultuur met sy klem op rykdom en grondbesit, het feitlik die hele lewenswyse van die inboorlinge vernietig.

Merkwaardig genoeg kon party groepe tog wel daarin slaag om sekere tradisies lewend te hou, wat ons vandag nog ’n kykie in ’n ryk en hoogs verfynde Steentyd-bestaan gee. Hierdie artikel handel oor die inboorlinge soos hulle vroeër gelewe het.

Weg hier!

Wat kom soek jy hier, witman?

BO: ’n Gewysigde weergawe van ’n negentiende-eeuse gravure toon Australiese inboorlinge wat hulle verset teen die aankoms van die ontdekkingsreisiger kaptein James Cook in die 1700’s.

 

Uluru of Ayers RockMassiewe
heiligdom van
sandsteen

REGS: Uluru of Ayers Rock, ’n massiewe sandsteen-formasie in die Australiese binneland en ’n heiligdom van die Australiese inboorlinge. Die rots is sowat 3,6 km lank, 2 km breed en troon tot 348 meter hoog oor die omringende landskap. Daar is baie legendes van die Tyd van Drome oor hoe Uluru tot stand gekom het (in der waarheid deur ’n baie lang geologiese proses van erosie) en antieke skilderye en klipsnywerke word in die vlak grotte aan die voet van die rots gevind.

Foto deur “Drozdp”, wat dit in die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web tot openbare besit (“public domain”) verklaar het.

Rotskuns van die Australiese inboorlinge  
LINKS: ’n Voorbeeld van die rotskuns van die Australiese inboorlinge.

Foto: 750 Royalty-Free photographs of Australia

  

DIE Australiese inboorlinge het in stamme met verskeie subgroepe gewoon. Daar was geen kaptein of heerser aan die hoof van ’n stam nie, maar belangrike besluite wat almal raak, is deur uitgesoekte, gerespekteerde manne geneem. ’n Gesin het uit ’n man, een of meer vroue en ’n paar kinders bestaan.

Afhangende van hoeveel kos en water beskikbaar was, het die inboorlinge óf rondgetrek óf op een plek bly woon. By geleentheid is eenvoudige hutte van gras, boombas en diervel gebou en partykeer het hulle tussen rotse skuiling gesoek.

Hulle het egter meestal verkies om in die ope lug te woon—naby water, wild, plantkos en hul heilige plekke. Sekere gebiede in ’n kamp is vir dinge soos kook, ontspanning en slaap afgebaken.

Besittings was skaars. Hulle het geen meubels gemaak nie, maar op die grond gesit en geslaap of op ’n ietwat verhewe platform. Etes is rondom die kampvuur genuttig.

Van gras, blare, hout, boombas en velle is mandjies, matte en sakke gemaak waarin kos en water gedra is. Min klere was nodig in die warmer streke, hoewel kangaroevelle of buidelrotpelse gedra is waar dit kouer is. Dan het hulle ook nog naby hul troetel-dingo’s geslaap om warmer te kry.

Australiese wildehond of dingo

LINKS: ’n Australiese wildehond of dingo. Die oorsprong van die dingo is onseker. Hulle het moontlik sowat 6000 jaar gelede in Australië beland, saam met die wrakstukke van vergane vaartuie wat van Asië afkomstig was. Daar word vertel dat sekere inboorlinge dingo’s geleer het om reptiele en die groter soogdiere te jag.

Foto (detail) met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com deur dr. MJ Mahoney, Jet Propulsion Laboratory, California Institute of Technology, Pasadena, Kalifornië, VSA

KOS is gekry deur te jag en plante te versamel. Die mans was die jagters en die jag het groot vaardigheid geverg. Die wapens was allerhande soorte spiese, boemerangs, nette, strikke, messe en harpoene—en die prooi het van kangaroes, wallabies en buidelmuise tot waterskilpaaie, krokodille, groot akkedisse, voëls en varswatervisse gewissel.

BoemerangBoemerang-gooierLINKS: ’n Historiese illustrasie van ’n boemerang-gooier. Die boemerang, van harde hout, is ’n min of meer V-vormige instrument wat vir jag, sport of as oorlogswapen gebruik is. Die kleiner soort wat normaalweg in sy vlug na die gooier terugkeer en tussen sowat 30 en 75 cm lank is, is aangewend om klein voëls te jag en as sportinstrument. Met die reguiter, swaarder en nie-terugkerende boemerang van sowat 60 tot 90 cm kon vyande noodlottig gewond of groot diere platgetrek word—tot omtrent 150 meter ver.

Die jagters het hulle gekamoefleer deur modder oor hul lywe te smeer om hul reuk te verdoesel en blare, takkies en diervelle oor hul kop en skouers te drapeer.

Die mans het dikwels saamgejag. Hulle het om ’n klompie bosse uitgesprei en die diere in die bosse uitgejaag deur te lawaai of rook te maak.

Inboorlinge aan die kus het kano’s van uitgeholde boomstompe gebruik om seeskilpaaie, doegongs, soutwaterkrokodille, walvisse en robbe met harpoene te jag.

Dit was die vroue se taak om plantkosse te soek. Dié soort kos het van streek tot streek verskil, maar was gewoonfik plantwortels, vlesige stingels, jamwortels, wilde vrugte en bessies, sade en neute.

In hul daaglikse omswerwinge het die vroue ook wilde heuning en voël- en waterskilpadeiers versamel. Hulle was bedrewe in die kuns om larwes uit boomstompe te kry en om heuningpot-miere op te spoor vir die voedsame heuningdou wat hulle in hul liggame opgaar.

Die kuns om water te vind was belangrik vir oorlewing, veral in dorre streke. Water is byvoorbeeld in boomwortels en onder in opgedroogde rivierbeddings gekry. Nog ’n bron was woestynpaddas, wat ’n voorraad water in hul liggame hou.

Vuur het ’n belangrike rol in die lewe van die inboorlinge gespeel. Daarmee is gekook, is muskiete en slange afgeskrik, het die mense hulle snags warm gehou en is seinboodskappe gestuur.

Die plante op groot lappe grond is partykeer met opset aan die brand gesteek. Wanneer die nuwe plante daar begin groei het, is diere na die sappige groeisels gelok—maklike teikens vir die jagters.

DIE Australiese inboorlinge het geglo dat hulle deur middel van rituele en seremonies hul bande met die geeste van die Tyd van Drome kon behou.

Die gebruike het van streek tot streek verskil, maar sang, dreunsang en danse was gewoonlik deel van die plegtighede. Dit het dikwels gepaard gegaan met ’n geklik van stokke, boemerangs en ander wapens en die spookagtige klank van blaasinstrumente genaamd “didgeridoos”.

Voorstelling van ’n blasery op ’n “didgeridoo”

BO: ’n Voorstelling van ’n tradisionele blasery op ’n “didgeridoo” in ’n museum in Sydney.

Foto: Chris Greenberg / White House photo (US Gov PD) (gewysig)

Diegene wat aan die rituele deelgeneem het, is versier met verf wat gemaak is van verpoeierde klip wat met water of die olie van emoes (volstruisagtige voëls) gemeng is.

Partykeer het die mans en vroue saam ’n seremonie bygewoon, ander kere was óf net die mans óf net die vroue betrokke. Tienerseuns en -meisies het aan inisiasie-rituele deelgeneem om hulle in die volwasse gemeenskap te verwelkom.

Toe die verwestersing intree...Ook kuns het ’n belangrike rol in die tradisionele lewe gespeel. Hul tekeninge en gravures, behendig op boombas en klip aangebring, het gewoonlik ’n godsdienstige betekenis gehad. Die inboorlinge het ook figure uit hout en klip gekerf.

In meer onlangse tye het die mense van Australië die foute van die verlede probeer regstel. Sekere van die gewyde plekke is teruggegee aan die mense wat oorspronklik daar gewoon het en die inboorlinge word aangemoedig om, waar moontlik, hul tradisionele kultuur te behou—sodat die trots en selfrespek van weleer kan herleef.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad