|
Little Boy, die eerste kernbom wat in ’n oorlog gebruik is... met verskriklike gevolge...
“Klein seuntjie”
Foto’s van diverse bronne, meestal die Amerikaanse departement van verdediging (USDoD) of verwante regeringsinstansies en dus openbare besit
Lees ook: |
||||||
N die donker oggendure van 6 Augustus 1945 verlaat die Amerikaanse B-29-bomwerper Enola Gay die aanloopbaan op die Oseaniese eiland Tinian in die Stille Oseaan. Die vlieënier is kolonel Paul Tibbets. Hy dra ’n geweldige geheim met hom saam—omtrent ’n komende gebeurtenis wat die gang van die geskiedenis dramaties gaan beïnvloed. Sowat vier uur nadat hulle opgestyg het, verklap Tibbets aan sy spesiaal opgeleide bemanning waarheen hulle onderweg is en wat hulle daar gaan doen. Op die vliegtuig is die wêreld se eerste atoombom wat in ’n oorlogsituasie ontplof gaan word, verneem die manne. En hul teiken is die Japanse stad Hirosjima. Die stad met sy nagenoeg 350 000 inwoners lê in die suidweste van Japan se grootste eiland. Tot dusver was dit nog die enorme bomaanvalle gespaar wat deur die Amerikaanse magte teen Japan geloods is—alles in ’n verbete poging om die onversetlike Japanners hier in die Tweede Wêreldoorlog tot oorgawe te probeer dwing. Tibbets en sy manne se uittog na Hirosjima verloop sonder enige Japanse optrede om die vlug te probeer keer. Die kernbom, met die skrynend ironiese kodenaam Little Boy, word gereed gemaak om op die stad afgegooi te word. Die Enola Gay bereik die stad om 7:25 vm. en vlieg op ’n hoogte van sowat 8000 meter. Om 8:16 word die bom gewerp en dan ontplof dit omtrent 600 meter bokant die grond. ’n Verblindende lig omgeef die manne terwyl die vliegtuig ’n skeep draai maak om aan die ontploffing te ontkom. Met beskermende brille kyk Tibberts-hulle terug na waar hulle die bom gegooi het. Hulle sien hoe ’n onheilspellende paddastoelvormige wolk in die bo-lug uitkrul. Hirosjima lê verwoes. Die skade... die lyding op die grond.. dis onbeskryflik. Mense wat naby die middelpunt van die ontploffing was, het na alle waarskynlikheid eenvoudig verdamp by ’n temperatuur wat glo miljoene grade Celsius was. Baie is dadelik dood of sou nog sterf weens die gesamentlike uitwerking van onder meer brand- en stralingswonde, trauma, infeksie en stralingsiekte. Nog later sou leukemie en ander kankers verdere lewens eis. • Ná die oorlog het die opperbevel van die Geallieerde Magte geraam dat 129 558 mense weens die Hirosjima-ontploffing gedood is of beseer was of vermis geraak het. Tog was dit nie genoeg om die Japanse leierskorps te laat oorgee nie. Selfs ’n tweede kernaanval drie dae later op die Japanse stad Nagasaki het nie die vyandelikhede dadelik beëindig nie. Eers op 14 Augustus het Japan tot ’n onvoorwaardelike oorgawe ingestem.
REGS BO: Die paddastoelwolk wat as gevolg van die ontploffing bokant Hirosjima uitgekrul het.
BO: Hirosjima vandag, ’n stad met moderne geboue. Maar links op die foto herinner die Hirosjima-vredesgedenkteken of “Atoombomkoepel” jou aan ’n tyd toe die mens die ontsettende kragte van die atoom ingespan het om te vernietig. Die atoombom het feitlik reg bokant die koepel (op ’n hoogte van 600 meter) ontplof.
Foto:
Hirotsugu Mori,
|
||||||