|
Hoe
yster uit sy ertse onttrek word YSTER
word berei uit ysterertse, hoofsaaklik uit ysteroksiede soos hematiet
(Fe2O3) en
magnetiet (Fe3O4). Die erts word saam met
koolstof in 'n hoogoond tot sowat 2000 °C verhit. Die koolstof (in die
vorm van kooks, dit wil sê gesuiwerde steenkool) verbind met die suurstof
in die oond om koolstofmonoksied te vorm:
6 C + 3 O2 → 6 CO
Die
koolstofmonoksied reduseer dan die ystererts, sê magnetiet, tot
gesmelte yster en verander self in die proses in koolstofstofdioksied:
6 CO + 2 Fe2O3
→ 4 Fe + 6 CO2
|
|
Yster
in die geskiedenis
LINKS: ’n
Ysterbyl uit die Sweedse ystertyd wat by Gotland, Swede, gevind
is.
Krediet: Kopiereg het verval weens
ouderdom (sogenaamd openbare besit)
DIE ou volkere het yster “die hemelse metaal” genoem—en dit
is dus glad nie onmoontlik dat die eerste stuk ystergereedskap van
meteoriet-yster gemaak is wat uit die “hemel” geval het nie.
Maar waar, wanneer en hoe die eerste mens ontdek het
dat yster uit sy ertse gesmelt
kan word, sal seker altyd vir ons ondermaanse skepsels ’n groot
raaisel bly.
Ook in Suid-Afrika is daar
verspreide oorblyfsels van ou myngroewe en primitiewe smeltoonde
wat toon dat die voorouers van ons swart volkere wel deeglik met
die kuns vertroud was.
Alle volkere het hul eerste
wapens en duursame gereedskap van klip (steen) gemaak. Daarna is
brons gebruik en uiteindelik yster. Só was dit by die
voorhistoriese stamme van Amerika, Afrika, Europa en Asië.
Die tydperke van steen, brons en yster was weliswaar nie vir alle
volkere dieselfde nie en soms is die gebruik van brons oorgeslaan.
Maar op die ou end sou yster oral seëvier. Dit is insiggewend dat
yster reeds vierduisend jaar gelede deur die Chinese gebruik is.
Die
tegniek van ysterbewerking het vermoedelik in die eerste duisend
jaar voor die geboorte van Christus sy pad uit die gebied van die
Middelandse See suidwaarts in Afrika gevind. Die mense van Afrika
het spoedig hul eie tegnieke ontwikkel. Ystersmedery het
geleidelik vanuit Noord-Afrika tot net suid van die Sahara
versprei.
In
die eerste eeu na Christus was ysterbewerking al iets algemeens in
Wes-Afrika, met ystersmederye in groot georganiseerde
hoofmanskappe of koninkryke.
Ystersmedery
het na Midde- en Suider-Afrika versprei tydens die verhuising van
swart volkere na hierdie dele.
Die ou Grieke was meesters in die gebruik van yster, en die
Romeine ná hulle ook. Hulle het dit vir baie dinge gebruik, net
soos ons dit vandag ook doen: vir vensterskerms, skarniere,
slotte, juweelboksies. Die ou Galliërs het die kuns van die
Romeine geleer en dit op hul beurt aan die Noormanne oorgedra. Die
Noormanne moet baie knap smede gewees het, want met hul karige
kennis en die primitiewe gereedskap van destyds het hulle gepantserde
skepe gebou.
In
die Middeleeue het die kuns van die smid in Europa opgebloei.
Hulle het pragtige wapenrustings vervaardig en veral wonderskone
skarniere, wat vandag nog in die ou Gotiese kerke pryk. |
|
Drie
vorms van yster
DIT
is nuttig om te kan onderskei tussen
die drie vorms van yster—smee-yster, gietyster en staal—soos
hulle oral rondom ons gebruik word.
•
Smee-yster
is betreklik sag, het ’n draderige struktuur en is taai. Draad,
spykers, ysterplate, heiningpale en al sulke voorwerpe word daarvan
gemaak. Dit is pletbaar en
plooibaar, veral as dit sterk verwarm word, wat dit rooi laat gloei.
Trouens,
indien smee-yster tot rooiwarm verhit word, kan dit maklik tot enige
gewenste vorm gehamer word. Twee stukke kan ook aanmekaar gesweis
word. Dit bevat minder onsuiwerhede as gietyster en staal, en smelt
eers by nagenoeg 1500 grade Celsius.
Die beroemde Eiffel-toring in Parys (gebou vir die
Paryse Wêreldtentoonstelling van 1889) is ’n vroeë voorbeeld van
’n smee-ysterkonstruksie op ’n reusagtige skaal. Sonder sy
moderne uitsaai-antenne troon die toring 300 meter hoog oor die
Franse hoofstad.
•
Gietyster,
wat ook potyster genoem word, bevat van drie tot vier persent
koolstof. Dit smelt maklik by 1100 grade Celsius, en hierdie
gesmelte yster kan dan in vorms gegooi word om talle soorte goedkoop
ysterware daarvan te maak. Omdat dit bros is, word dit gewoonlik net
gebruik om voorwerpe te vervaardig wat nie hoef te buig nie en wat
nie aan meganiese skokke onderhewig sal wees nie, byvoorbeeld die voetstukke van swaar masjiene en waterpype.
Dit is ook al dikwels in die verlede gebruik vir swierige fassades
voor geboue en versierings aan byvoorbeeld pilasters, kaggels en
grafte. Gegote yster
kan nie gesweis word nie.
|
HEEL
REGS:
’n Ou kanon van smee-yster.
REGS:
Gietyster-
versierings by ’n familiegraf uit die negentiende eeu.
|
 |
|
Foto
van kanon: National Park Service / U.S. Department of the Interior
Foto van smee-yster by famieliegraf: Jack E. Boucher, HABS
Collection / National Park Service / U.S. Department of the Interior |
•
Staal
is ’n soort yster wat
getemper kan word. Dit beteken dat sy graad van hardheid verander
kan word deur dit te verhit en af te koel. Gewone staal bevat van
0,2 tot 1,5 persent koolstof en smelt by sowat 1300 grade Celsius.
Daar is deesdae ook ander soorte staal waar yster met verskillende
stowwe vermeng word. Staal word gebruik vir masjiene, spoorstawe,
gereedskap, geweerlope, meslemme, ens. In
kombuise en ander werkplekke waar kos berei word, word gereedskap
van vlekvrye staal dikwels gebruik omdat dit nie kos besoedel
nie en dit maklik skoongemaak kan word.
Verskeie
maniere bestaan om gietyster in staal te verander, maar dit was
Henry Bessemer van Engeland se uitvindsel wat in 1854 goedkoop staal
aan die wêreld gegee het. Dit gebeur nie altyd dat ’n uitvinder
kry wat hom toekom nie, maar sy patent het van Bessemer ’n skatryk
man gemaak.
|
|
Yster
in die dieet
Foto
en illustrasie: Centers for Disease Control and Prevention / U.S.
Department of Health and Human Services
YSTER
in die menslike dieet is noodsaaklik vir sekere ensieme
(proteïene wat chemiese reaksies aanhelp) en die vorming van
hemoglobien (pigment van rooi bloedselle) en mioglobien (pigment
van spierselle).
Yster kom dus in baie
liggaamsweefsels en -vloeistowwe voor, soos die beendere,
tande, hare, gal, bloed, sweet en urien, asook organe soos die
lewer.
Dit word in baie voedingstowwe
gevind, onder meer eiers, lewer, vis, blaargroente, boontjies en
neute.
• Hemochromatose is ’n siekte
waarin die liggaam te veel yster uit voedingstowwe absorbeer,
asook uit ander bronne soos vitamienaanvullings wat yster bevat.
Die gevolg is dat liggaamsorgane en -weefsels deurtrek is van
ysterafsettings weens ’n verhoogde afbraak van bloedselle. Die
pasiënt se vel word koperkleurig en, as die siekte nie behandel
word nie, kan dit oor die jare heen die liggaamsorgane beskadig.
Simptome is ’n baie moeë gevoel, swakheid, massaverlies,
buikpuin en gewrigspyn, maar omdat hierdie simptome ook
by ander siektes voorkom, kan hemochromatose
in sy vroeë stadiums moeilik wees om te diagnoseer. Hoewel hemochromatose ander oorsake kan
hê, word dit dikwels
oorgeërf.
|
|