Vuurdans van die son


Elke sowat elf jaar gebeur dit—die son beleef een van sy periodieke tye van "storm en drang", wat sy invloed wyd en syd in die sonnestelsel laat geld...



           
 

.ELKE nagenoeg elf jaar is dit sulke tyd.
  
Die son gaan ’n siklus van verhoogde aktiwiteit binne, en die groot bewerker van die stoflike lewe op aarde wys weer hoe omgesukkeld hy kan raak as dit dan nou moet.

Foto: NASA

Op sů ’n onstuimige hoogtepunt word slierte gloeiende gasse  honderdduisende kilometers bokant die oppervlak van die son uitgeblerts en vorm dit partymaal ook enorme kringe. Selfs die treffende aksietonele wat deur moderne teleskope op foto’s vasvang word, kan nooit werklik reg laat geskied aan die skaal en geweld van die ontsaglike skouspel nie. Trouens, dis ’n kosmiese inferno groter as wat die menslike verstand kan bevat.

En dit laat ’n mens ook weer tot stilstand kom om ’n slag opnuut oor die son as skeppingswonder te dink. Want haal jy die son uit ons lewens uit, wat bly oor? Dood. Geen plant, geen dier, geen mens of mikrobe of enige ander vorm van lewe nie... net ’n onherbergsame, bevrore aarde wat deur die oneindigheid wentel in ’n star en ewige nag waarin verafgeleŽ sterre flikker.

So belangrik is die son in ons bestaan dat sekere mense hom in die antieke tyd as die hoofgod van die gode beskou het.

Die son is natuurlik verreweg die grootste hemelliggaam in ons sonnestelsel en bevat 99,8 persent van die totale massa van ons familie van planete, komete en ander ruimtelike voorwerpe. Maar in die ruimte is hy ’n taamlik algemene soort ster, straks selfs ’n bra onopsigtelike enetjie onder die bonte gewemelte van sterre in ons sterrestelsel.

Sy deursnee is nietemin ’n reusagtige 1 390 000 km. Vergelyk dit met die sowat 1 600 km wat die Kaap en Johannesburg van mekaar skei. Boonop het die son sowat 1,3 miljoen keer die aarde se volume en ongeveer 300 000 keer ons planeet se massa. Om ’n beter denkbeeld van die verskil te vorm: as hierdie gloeiende gasbol ’n deursnee van 20 cm gehad het, sou die aarde omtrent so groot soos ’n peperkorrel gewees het!

Die krag van die son word deur kernfusie opgewek. Hy is ook al beskryf as ’n ontsaglike waterstofbom, met die groot verskil dat hy nie na buite uitplof nie, maar weens sy geweldige swaartekrag gedurig op homself inplof.

Hy bestaan meestal uit die gas waterstof, waarvan 700 000 000 ton elke sekonde in die gas helium en energie omgeskep word. Tans bevat die son sowat 75 persent waterstof en 25 persent helium, terwyl alles anders (soos metale) ’n skamele 0,1 persent van sy massa vorm.

Maar die kern van hierdie hemelbol van gasse is, verbasend genoeg, baie digter as wat kwik of lood op aarde is. Dis weens die enorme drukking in die kern.

Amerikaanse sterrekundiges het enkele jare gelede berig dat hulle selfs water op die son gevind het. Die water, in die vorm van superverhitte stoom, is in twee sonvlekke waargeneem waar die oppervlak-temperatuur ’n paar duisend grade koeler was as normaalweg.

Die son se gemiddelde oppervlak-temperatuur is ongeveer 5 500 grade C en die temperatuur by sy kern ’n alles versengende sowat 15 000 000 grade.

Maar hoewel die mens in die afgelope dekades baie van die raaisels van die ruimte opgelos het, skuil daar vir ons steeds tergende geheime in die son se chaotiese kernoond.

Vrae soos hoekom sy buitelae selfs warmer as sy onstuimige hart kan wees, verbyster nog altyd wetenskaplikes, hoewel gesofistikeerde nuwe ruimtelike instrumente aanhou om die raaisels te ondersoek en ons kennis omtrent die son te verbreed.

Dit bring ons terug by die son se driftige buie al om die elf jaar. Die foto’s wat dan wat na die aarde gesein word van die tonge gloeiende elektromagnetiese gasse wat honderdduisende kilometers bokant die oppervlak uitrol, toon selfs hoe hulle teen mekaar bots om massiewe ontploffings te veroorsaak.

Die menseverstand kan hom kwalik indink hoeveel energie hierby betrokke moet wees. Wat meer sÍ: treffend soos hulle is, kan selfs die ordelose aksietonele wat deur teleskope op foto’s vasgevang is, nooit reg laat geskied aan die skaal en geweld van die verblindende skouspel nie.

Magnetiese veld

BO:  ’n Loodregte magnetiese “spuitfontein” bokant ’n sonvlek op die son, ’n gebied met ’n sterk magnetiese veld.

Foto: NASA

BO: Warm gasse dans op die son. Hierdie foto van ’n aktiewe gebied op die son is deur die Amerikaanse ruimteagentskap NASA se TRACE-snuffeltuig geneem (TRACE staan vir Transition Region and Coronal Explorer). Dit is ’n blik van bo af op lusse en plasma (warm, elektries gelaaide gas) wat deur sterk magneetvelde ingesluit word. Die vals kleure verteenwoordig verskillende temperature. Blou is nagenoeg 200 000 grade Celsius, groen is ongeveer 500 000 grade Celsius en rooi is sowat 2 500 000 grade Celsius. Wit word gesien waar al drie kleure kombineer. Vyttien aardes langs mekaar sou in die groter lusse kon inpas.


Foto’s bo en onder: Dr. Alan Title/Stanford Lockheed Institute
for Space Research & NASA

ONDER: ’n Sywaartse blik op ’n bedrywige deel van die son, ook geneem deur NASA se TRACE-snuffeltuig.
 

’n Sywaartse blik op ’n bedrywige deel van die son

 

Gesegdes oor die son

"Die son is ’n vurige klipmassa, ietsie groter as Griekeland.''—Anaxagoras, 434 vC.
"Draai jou gesig na die son en die skadu's val agter jou.''—Maori-spreekwoord.
"Die son, met al die planete wat daarom wentel en daarvan afhanklik is, kan steeds ’n tros druiwe ryp maak asof hy niks anders in die heelal het om te doen nie.''—Galileo Galilei.
"Dou word op blare gevorm wanneer die son op hulle neerskyn en hulle laat sweet.''—Elfjarige in ’n wetenskapseksamen.

Klik hier om verder te lees oor die planete in die sonnestelsel

Klik hier vir ’n afsonderlike artikel oor die son: As die son kon praat. . .

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad