|
Aardbewing!
Wag daar rêrig
ook
’n ramp op
die Kaap...?
Die
grond riffel soos ’n dam waarin ’n klip gegooi is. Treinspore word soos
bloudraad verwring. Geboue tuimel inmekaar, strate bars oop en mense kan selfs
in die gapende skeure verdwyn. Aardbewing. ’n Verskrikking vir mense van alle
eeue. Ons in Suid-Afrika is gelukkig omdat ons
’n betreklik bestendige aardkors het—met die uitsondering van Gauteng met
sy mynstortings en die Wes-Kaap met sy taamlik verontrustende seismiese
onbestendigheid...

BO:
Watsonville, Kalifornië, 1989... in die oopte het ’n deel van
’n pad weens ’n aardbewing verbrokkel. Hier is die skade wel
dramaties dog gering, maar waar daar geboue is, bring só ’n
skudding groot verwoesting mee. En in ’n gebied wat dig
bebou is, kan duisende mense lewend onder die puin begrawe
word.
Foto: S.D. Ellen , U.S. Geological
Survey

BO: Izmit, Noordwes-Turkye, 1999... geboue stort inmekaar soos
kaartehuise...
Foto: S.D. Ellen , U.S. Geological
Survey

BO: In San
Francisco, 1989... ’n chaotiese verwrongenheid...
Foto: C.E. Meyer, U.S. Geological Survey
JY loop nog ewe rustig in ’n straat van jou stad of
dorp, en skielik begin die grond om jou golf soos ’n dam waarin ’n klip
gegooi is.
’n
Vreeslike dreuning, byna soos ’n weeklaag, styg uit die aarde uit op. Om jou
tuimel die geboue soos kaartehuise inmekaar, en voor jou bars die teerstrate oop
soos lang repe sagte, geskeurde karton.
Mense,
selfs motors, val in die grootste skeure. Dit gaan weer toe, en hulle verdwyn
vir altyd. Oral stort bakstene, betonblokke, balke en pilare neer op mense, wat
heen en weer skarrel en skuilplek soek waar daar nie is nie.
Brande
breek uit. Water stroom uit gebarste pype. Vensters se ruite het verbrokkel tot
vlymskerp skerwe of gruis, wat nou vermeng lê met die rommel en die ellende nog
erger maak. Stad in puin. Alleraakligste natuurramp. Verskrikking soos die mens
hom van die vroegste tye af ken. Aardbewing!
’n
Skudding soos die een wat hierbo beskryf is, is van die ergste wat ’n
gemeenskap kan tref, maar lank nie almal is so hewig of veroorsaak soveel
verwoesting nie. Trouens, daar is sowat negeduisend aardbewings per jaar op
aarde en, hoewel ongeveer vyfduisend daarvan gevoel kan word, is dit genadiglik
net die enkeles wat af en toe baie duisende lewens eis.
Suid-Afrika
is in die geseënde posisie dat ons aardkors meestal bestendig en goed
gebalanseer is, sodat die grootste deel van die land nie sommer deur groot
aardbewings getref sal word nie.
Nogtans is ons nie gevrywaar van die roeringe in die kors van die aarde nie,
soos bewys deur die Bolandse aardbewing van 1969, wat wel lelike skade aangerig het.
Die
sogenaamde Milnerton-breuk het twee eeue gelede—op 4 Desember 1809—’n ander, hewige aardbewing veroorsaak wat die opstal van Jan Biesjes Kraal,
waar die Ascot-renbaan in Milnerton ontwikkel is, feitlik verwoes het. Daar is
ernstige vrese dat dieselfde breuk
(ons vertel later wat met
“breuke” bedoel word) dalk nog binnekort groot dele van die
Skiereiland in puin kan lê.
Dit
sal ’n geweldige ramp wees. Nie net kan die sakesentrums van Milnerton,
Bellville en die Kaapse middestad geskud word nie, maar duisende mense kan
geraak word in die dig beboude Mitchells Plain en Khayelitsha, wat op die
geologiese breuk lê.
Maar
wat is die redes dat die aarde so bewe? Daar is verskillende oorsake, en een
daarvan is onderaardse spelonke of selfs myne wat intuimel. As jy in
Johannesburg woon of ’n ruk lank daar gekuier het, sal jy sekerlik al die
trillings of ligte aardbewings gevoel het.
Die
oorsprong van die meeste aardbewings, ook die reuse-skuddings, moet egter ietwat
dieper gesoek word. Om dit te begryp moet ’n mens jou die aarde voorstel as
groot, plat rotsplate, kilometers dik, wat rus op ’n dik, warm massa wat soos
’n waterstroom vloei.
Vastelande,
stede, dorpe en mense beweeg saam met die plate, maar jy merk niks op nie, omdat
die beweging so ontsettend stadig is. Waar plate mekaar ontmoet, bots hulle of
skuur hulle teenmekaar. Die kant van die een plaat kan dalk onder die ander een
inskuif, of hulle kan van mekaar af wegskuif.
Die
krake in die aardkors waar plate bymekaarkom, word deur die geleerdes
“breuke” (Engels “faults”) genoem. Een van die bekendste
breuke is die San Andreas-breuk, wat sowat duisend kilometer deur
Kalifornië, Amerika, sny. Die verpletterende aardbewing wat die stad San
Francisco in 1906 getref het, word aan hierdie breuk gewyt.
Wat
eintlik by ’n aardbewing gebeur, is dat die aarde ’n tyd lank die spanning
en samepersing weerstaan wat deur die bewegings binne-in hom uitgeoefen word.
Dit is omdat die aardkors wel in sekere mate rekbaar is. Maar dan bereik dit die
punt waar dit nie meer verder rek of plooi nie en skielik breek, of waar die
verskillende dele meteens oormekaar skuif.
Kyk
maar self wat gebeur as jy ’n effens buigbare stokkie neem en dit vinnig
middeldeur breek. Die gebreekte punte sal agterna nog kortstondig in jou hande
tril.
Tydens
’n aardbewing vibreer die aarde weliswaar slegs ’n breukdeel van, sê maar,
die lengte van die voorste lid van jou duim, maar hierdie vibrasie is tog genoeg
om wydverspreide skade aan te rig. Die uitwerking kan geïllustreer word deur
’n albaster op ’n tafel neer te sit en die tafel dan hard met ’n hamer te
slaan. Die albaster spring etlike sentimeters in die lug op, hoewel die tafel
self nie meer as ’n tienduisendste van daardie lengte kon gevibreer het nie.
Dit
is hoekom ’n ligte trilling van die aarde heeltemal genoeg is om mense uit hul
beddens te slinger, koppies en borde van rakke te laat tuimel of groot klipmure
na benede te laat stort.
Dis
werklik verstommend dat die krag wat só ’n skudding veroorsaak dieselfde kan
wees as dié van honderd atoombomme van die soort wat die Japanse stad Hirosjima
in die Tweede Wêreldoorlog verpletter het!
Een
wetenskaplike wat self ’n sterk aardbewing ervaar het, het op ’n keer vertel
dat dit vir hom gevoel het of die
hele wêreld ’n mat geword het wat ’n slag of wat goed geskud en toe
neergegooi is. Die mense, die geboue, die berge—alles en almal was niks meer
as stoffies in daardie mat nie, het hy gesê.
Die
studie van aardbewings en hul uitwerkings word seismologie genoem, en die
instrument wat die skokgolwe meet, is ’n seismometer (of seismograaf). In sy eenvoudigste vorm
is dit ’n pendule (slinger) wat aan ’n raamwerk hang wat ’n swaar basis
het. Wanneer die aarde skud, beweeg die basis, maar nie die pendule nie, want dié
reageer slegs op die aarde se swaartekrag. Instrumente teken die verskil in
afstand tussen die stilstaande pendule en bewegende basis aan, en só kan later
gesien word hoe hewig die skudding was.

BO: ’n Eenvoudige
seismograaf, wat die sterkte van aardbewings aanteken. ’n Pen
wat aan ’n pendule (slinger) vas is, trek ’n onafgebroke streep
op ’n trom wat in die rondte draai terwyl dit van regs na links
beweeg. Tydens ’n aardbewing trek die merker aan die pendule,
wat slegs op swaartekrag reageer en nie op die skuddende aarde
daaronder nie, ’n sig-sag-streep op die trom wat wel as gevolg
van die aardbewing rondskuif. Die krag van aardbewings word
gemeet volgens die “moment magnitude”-skaal (MMS), wat reeds in
die 1970’s die ou Richter-skaal begin vervang het. Die waardes
is blykbaar ooreenstemmend, maar die MMS is baie akkurater
wanneer die sterkte van hewiger skuddings aangedui word.
REGS:
Moderne seismometers van die Amerikaanse regeringsliggaam U.S.
Geological Survey in Menlo Park, Kalifornië.
Foto: J.K. Nakata /
U.S. Geological Survey
Seismiese instrumente
bestaan reeds eeue lank. ’n Chinese geleerde het in 132 n.C. ’n
toestel uitgevind het wat die voorkoms van aardbewings aangeteken het. As
’n mens na beskikbare beskrywings van sy instrument kyk, het dit die vorm van
’n silinder gehad met agt drake rondom die boonste deel gerangskik, elk
met ’n balletjie in die bek.
Rondom
die onderste deel was agt paddas, elkeen direk onder ’n draakkop. Wanneer daar
’n aardbewing was, het een van die balletjies uit ’n draak se bek geval en is dit
deur die padda se bek gevang, wat dan ’n geluid gemaak het. Die balletjie is
waarskynlik uit die draak se bek gedruk deur ’n los regopstaande staaf
binne-in die toestel, wat deur die trilling geaktiveer is.
Die besondere draak en
padda wat betrokke was, sou die rigting aandui waar die aardbewing
plaasgevind het. Daar is vertel dat, toe die instrument sy heel
eerste bevinding gemaak het, dit ’n aardbewing êrens in die ooste
aangedui het. Dae later het iemand wat van daar af gery het, kom
vertel dat daar inderdaad só ’n aardbewing was.

BO: ’n Replika van
die ou Chinese seismiese instrument met die drake en paddas,
waarvan boontoe in die teks vertel word.
Foto deur
Shizhao,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het.
Kopiëring, verspreiding en/of
modifikasie word vergun ingevolge die bepalinge van die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2
of enige latere weergawe soos gepubliseer deur
die Free Software Foundation. ’n Afskrif van die
lisensie word ingesluit in die in die afdeling
getiteld: “GNU
Free Documentation License”.
Kan
geleerdes vooruit sê waar en wanneer ’n aardbewing sal plaasvind? Ongelukkig
nog nie, maar daar word gehoop dat hulle dit eendag wel sal kan doen. Intensiewe studies
word reeds vandag gedoen van die breuke in die aardkors, en sensitiewe
instrumente verklik die geringste bewegings binne-in die aarde.
Selfs
dieregedrag word dopgehou. Waarom word sekere diere so rusteloos reg voor ’n
aardbewing? Het hulle ’n gevaarsintuig waarvan ons mense dalk nog geen benul
het nie? Met sy beperkte kennis staan die mens ook hier steeds voor baie
raaisels wat wag om opgelos te word. Maar, wie weet, dalk vind ’n slim
wetenskaplike wel in ons leeftyd die aardskuddende antwoorde om die
grootste skrik uit aardbewings te haal!
Skokramp in
Haïti, 2010

BO: As ’n paar geboue
só dramaties ineengestort het, is dit al erg genoeg. Indien feitlik
’n hele stad só lyk, is dit ’n haas onbeskryflike katastrofe. Die
verwoestende skudding wat Port-au-Prince, die hoofstad van Haïti,
en omstreke op 12 Januarie 2010 getref het, was een van die heel
ergste aardbewegings in die moderne geskiedenis.
Baie dae daarna is
verminktes, van wie party selfs nog gelewe het, uit die puin gehaal
van die aardbeweging wat 7.0 op die “moment magnitude”-skaal (MMS)
geregistreer het. Dood en lyding was oral te sien. REGS is ’n
sprekende foto van ’n meisie wat die aardbewing oorlewe het. Haar
beserings was egter gering in vergelyking met dié van baie ander
mense van die verwoeste Haïti.
Buitelandse vrywilligers
het van wyd en syd soheentoe gestroom om hulp aan te bied, des te nodiger omdat
ook die hele regeringstruktuur van Haïti weens die ramp in duie
gestort het. Ook Suid-Afrikaners het ruim hulp verleen, onder meer
ook in die vorm van skenkings.
Haïti is ’n brandarm
eilandstaatjie oos van Kuba. Dit sou nog baie lank neem om die
totale dodetal van die aardbeweging te bepaal, maar daar is
aanvanklik geraam dat dit tussen 100 000 en 200 000 sou wees. Teen
18 Januarie was meer as 70 000 lyke reeds in massagrafte begrawe.
Krediete: Heel bo: Detail van ’n lugfoto deur Sondra-Kay
Kneen, “Petty Officer 2nd Class”, “U.S. Coast Guard” / “Public
Domain U.S. Gov.”
Foto regs bo van beseerde meisie: Logan Abassi /
UN
Photo / via
MediaClubSouthAfrica.com
Die groot
Japanse katastrofe, 2011

BO: ’n Toneel in
die stad Wakoeja herinner aan die verwoesting wat deur ’n
kernbom veroorsaak kan word.
Foto: Alexander Tidd / U.S. Navy /
uitgereik (“Public Domain, U.S. Mil.”)
DIT
is gebruiklik om van ’n aardbewing te praat wanneer die aardkors
bewe, maar die haas onbeskryflike katastrofe wat Japan op Vrydag, 11
Maart 2011 getref het, was boonop ook ’n seebewing. Met die
episentrum diep onder in die see sowat 70 km van die
Osjika-skiereiland van Tohokoe, het dit die aarde met ’n verbysterde
krag van 9.0 op die MM-skaal geruk en ons planeet se as na
berekening byna tien sentimeter laat skuif.
Dit is vanselfsprekend dat onnoemlike skade daardeur op land
aangerig is. Maar toe, tot oormaat van ramp, volg die verpletterende
tsoenami-golwe. Dié het meedoënloos oor die verwoeste landskap
gerol, en puin en weerlose mense is in die gruwelikste hutspot van
dood en verwoesting meegesleur.
Duisende mense is gedood. Nog duisende was vermis. Meer as 125 000
geboue is beskadig of verwoes. Om verdere sout in die teer wonde te
vryf, is minstens drie kernkragreaktors sodanig beskadig weens
gebrekkige verkoeling dat die Internasionale Atoomkrag-agentskap die
toestand as “uiters ernstig” beskryf het. Kenners het selfs die
moontlikheid genoem dat ’n kernsmelting (meltdown)
plaasgevind het—met radioaktiewe besoedeling wat mense in die
omgewing geslagte lank kan teister.
Die aardbewing word, stellig sonder veel vrees vir teëspraak, as die
ergste bestempel wat Japan in menseheugenis getref het. Dit is ook
een van die kwaaiste aardbewings wat op die aarde voorgekom het
sedert daar in 1900 met moderne optekeninge begin is. Die geraamde
skade beloop honderde miljarde Amerikaanse dollars.
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad
|