’n Foto-essay 

Die 7 wonders
van die see

   

  
Foto: NOAA Education / Oceans and Coasts

DIE ontsaglike see... hy is baie groter as al die vastelande op ons lewende planeet. Sowat 71 persent van die aardbol se oppervlak word deur hierdie magtige uitgestrektheid van soutwater bedek. En in sy waters, met ’n gemiddelde diepte van 3800 meter, krioel dit van lewe tussen wiere in kosbare tuine van rots, sand en koraal. In die baie ou dae het mense van die land die sewe wonders uitgekies van die wêreld wat destyds aan hulle bekend was. Om vandag die sewe wonders te probeer aanwys van ons verwikkelde moderne wêreld, is bes moontlik ’n onbegonne taak. Maar in die ongerepte waterryk van die see kan ons steeds na ware mirakels gaan soek... en miskien selfs die fantastiese sewe wonders van die oseane vind. Ons sou dan ’n wonderlike foto-album daarvan kon saamstel soos die een hieronder...

 1. Die glorie van die korale

LINKS: Kom na die riwwe vir die wonderlikste koraalgesange van die see...  stille, woordelose lofprysings oor die skoonheid van die skepping.

Dat sulke skouspele geskep word deur klein, onooglike poliepe wat meestal in ’n onderlinge verbintenis met sekere groen alge saamlewe, is meer as net verstommend.

Die alge, wat vir die koraaldiertjies kos uit sonlig maak, woon onder meer vir beskerming by die diertjies. Dit is hierdie diertjies wat kalsium uit die seewater kan onttrek om dit in harde skuilplekkies te omskep waarin hulle lewe. ’n Stuk koraal bestaan gewoonlik uit die gewese huisies van baie koraalpoliepe, want sodra een poliep vrek, bou ’n ander een sy tuiste bo-op dié van die dooie een. Uiteindelik kan selfs groot riwwe in die see op hierdie manier opgebou word—al groei sulke riwwe miskien net met ’n paar sentimeters per jaar.

Rifkorale het ’n groot verskeidendheid van vorms. Dié op die foto word pilaarkorale genoem.

Naskrif: Die vinnige wegsterwing van koraalkolonies, weens siekte en vermoedelik ook weens aardverwarming, is volgens waarnemers tans besig om ontsettende afmetings in verskillende wêrelddele aan te neem.

Koraaleilande is nie net gesogte toeristebestemmings nie, maar belangrike visspesies lewe ook tussen die korale. Wegsterwing kan dus ekonomiese sowel as ekologiese rampe tot gevolg hê. Kenners is baie bekommerd oor al die moontlike implikasies.

Foto van pilaarkorale: Commander William Harrigan / NOAA Corps (ret.)

2. Die wonderlike wiere

REGS: Seegrasse en ander plante van die see het nie wortels soos die plante van die land nie. Hulle anker hulself aan dinge soos rotse vas en neem al hul voedende chemikalieë deur hul blare (laminae) in.

Foto: NOAA

3. Die gewerwelde swerwers

LINKS: Die werwelddiere van die waters sluit visse, rôe en lampreie in—diere met ’n ruggraat wat hulle van binne stewig hou terwyl hulle die paaie van die see deurkruis.

Daar is geweldig baie vissoorte. Trouens,  meer as die helfte van die bekende aantal moderne werweldiere is visse. Kenners erken ’n geraamde 24.000 lewende spesies, in vergelyking met die altesame sowat 21.500 soorte reptiele, amfibieë, voëls en soogdiere wat vandag op die aarde lewe. Boonop word al hoe meer vissoorte gereeld ontdek en word gemeen dat daar uiteindelik meer as 28 000 erkende spesies sal kan wees.

Die verskillende spesies verskil ook geweldig in grootte. Een Klein Duimpie wat nie te lank gelede nie in die Indiese Oseaan ontdek is, moet eintlik ’n Klein Sentimetertjie genoem word, want sy volle lengte is inderdaad ’n skamele sowat 1 cm.  Teenoor hom is daar die reusagtige walvishaai wat 15 meter lank kan word, met ’n geskatte massa van 68.000 kg.

Visse kom in feitlik elke denkbare wateromgewing voor, van seedieptes van 7 km tot in Antarktika. Die Antarktiese ysvis leef in water van ongeveer -2 grade C., word vertel, waar die water nie vries nie as gevolg van sy hoë soutinhoud. Op sy beurt vries die vis ook nie omdat sy bloed ’n soort biologiese vriesweringsmiddel bevat.

Praat van erg koudbloedig—maar so lewendig soos ’n vis!
  
Foto: NOAA

  4. Fantastiese ongewerweldes
   
Om een of twee kreature te vind wat op hul eie die enorme hoeveelheid ongewerweldes in die see kan verteenwoordig, is eintlik nie moontlik nie. Tog sal die twee op die foto’s hierbo nie maklik geklop word as dit by eienaardighede kom nie.

LINKS BO is ’n sogenaamde ktenofoor—een van ’n groep van sowat honderd wyd verspreide soorte seediere wat soos jellievisse lyk. Ktenofore of kamjellievisse het agt rye kam-agtige plate wat in die lengte om die liggaam gerangskik is. Die plate beweeg heen en weer in ’n golfaksie om die dier deur die water voort te stu. Die meeste soorte ktenofore is maar kleinerig—slegs sowat 7,5 tot 10 cm lank. Hulle het meestal twee tentakels, waarmee hul prooi gevang word, een elk aan weerskante van die deurskynende liggaam.

REGS BO is weer—ja, glo dit—’n spons wat besig is om seewater uit sy onmiddellike omgewing te onttrek. Hoewel seesponse dikwels verkeerdelik vir plante aangesien word, is hulle in der waarheid dinamiese, vlytige diere wat in ’n enkele dag duisende liters water deur hul liggame pomp.

Daar is etlike duisende sponsspesies, ongewerweldes wat tot die filum Porifera behoort. Ses soorte word as bemarkbaar beskou. Hul skelette bestaan uit ’n buigbare proteïenstof.

Foto van die ktenofoor Mertensia ovum:  Kevin Raskoff / MBARI Ocean Explorer / NOAA
Foto van spons: © 2002 Sea Studios Foundation / Met vergunning van US National Science Foundation

5. Die piepklein plankton

LINKS: Plankton is klein tot mikroskopies klein  organismes wat in die seestrome ronddryf, eintlik alle lewensvormpies wat te swak is om aktief teen die strome swem.

Daar is die plantaardiges—fitoplankton—sowel as die soöplankton, ’n groot verskeidenheid van organismes wat deur bioloë as diertjies geklassifiseer word.

Die fitoplankton is eensellige plantjies wat in staat is om kos en suurstof met die son se energie  te vervaardig. Hulle is die begin van die voedselketting waarop die dierelewe in die see berus.

Maar hul rol as makers van suurstof is selfs belangriker—hulle doen dit meer nog as die groen, fotosinteserende bome op die land—en sonder hulle sou ons almal spoedig in ’n walm van koolstofdioksied verstik het. Daar word trouens geraam dat 90 persent van alle fotosintese en die afgee van vry suurstof in die oseane plaasvind.

Slaak dus ’n sug van dankbaarheid, mens, (en vul jou longe in die proses met suurstof) oor die see se plankton en die stille rol wat hulle speel om die aarde leefbaar te maak!

Foto: NSF-versameling / Met vergunning van US National Science Foundation

6. Die soogdiere van die silte nat

REGS: Hulle lyk soos groot visse, maar hulle is nader aan, sê maar, ’n perd as aan enige van die koudbloedige diere wat in al die oseane lewe. Dolfyne, soos die Atlantiese bottelneusdolfyn wat hier so kordaat bokant die water uitloer, is besonder slim soogdiere met ’n eiesoortige intelligensie wat kenners ná jare se studie steeds kan verbyster. Hulle kan boonop emosioneel raak en vir mekaar en ook vir mense lief word. Wat meer sê, wanneer ’n dolfynkoei ’n kalfie kry, het sy selfs ’n vroedvrou-dolfyn wat haar bystaan!

Dolfyne behoort tot die orde Cetacea, waartoe ook die walvisse en die tornyne behoort. Daar is, sover bekend, nagenoeg tagtig spesies van die sogenaamde walvisagtiges, soogdiere wat uniek is deurdat hulle hul hele lewe in die water deurbring. Die kalfies suig egter nie aan die koeie nie, maar drink melk wat uit tepels in hul bekke gespuit word.

Walvisagtiges en olifante is die enigste diere wat ’n groter breinmassa as mense het. Hierdie feit beteken egter nie dat slimmer as ons is nie. Hulle het maar net groter breine omdat hulle self sulke reuse is!

Foto: Karen Pearce / US National Science Foundation

7. Die luisterryke skulpe

LINKS: Skulpe is al deur iemand die pragmonumente van verbygegane lewens genoem. Dié wat op die strand uitspoel waar ons die mooistes gretig optel, is immers die buite-skelette van dooie molluske of weekdiere.

Die huid van skulpdiere skei ’n kalkstof af (soortgelyk aan die kalk in kalkklip, wat deur verhitting “geblus” en in die boubedryf gebruik word). Hierdie kalkstof vorm die skulp, wat steeds groter word solank as wat die mollusk lewe.

Daar is letterlik tienduisende soorte seeskulpe, maar tog is daar net een basiese argitektoniese bloudruk vir die verskillende vorms. n Skulp is ’n spiraal wat om ’n sentrale as draai, waaraan die spiere van die diertjie geheg is. Groei geskied vanaf die spits van die spiraal en elke winding raak progressief breër. By die meeste slakke spiraal die windings in die rigting waarin die horlosiewysers loop, as dit van bo af beskou word.

Skulpe kan in alle kleure van die reënboog glinster, maar daar hou ons  fassinasie met hulle nie op nie. Hou ’n grote teen jou oor. Hoor jy die veraf suising van die branders? Die see is vol van ewigheid, het een van die eerste Afrikaanse digters lank gelede al geskryf—en dit sien én hoor ’n mens op ’n manier mos ook in die wonder van ’n skulp.

Foto van skulp van Nautilus pompilius:  K.S. Matz / Met vergunning van US National Science Foundation

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad