BEROEPSVOORLIGTING
Loopbane in die joernalistiek “Nuusdraers” van die moderne lewe
Foto:
NASA
OERNALISTIEK is basies die inwinning en skryf van nuus en ander inligting vir veral koerante, tydskrifte, die radio, die televisie en die internet. Dit kan op sy eenvoudigste miskien nader omskryf word as die insameling van belangwekkende feite deur verslaggewers, die uiteensetting en verwerking daarvan deur verslaggewers en ander, die beoordeling daarvan deur redakteurs en die verspreiding daarvan deur verskillende middele.
Dit het altyd te doen met dit wat werklik is of was of die reële toekoms.
Die skryf van fiksie is nie joernalistiek nie.
Die milieu waarin die mense in die
joernalistiek funksioneer, word die media genoem. Die professionele
beoefenaar van die joernalistiek is ’n joernalis.
Kortom, die media kan ons die wêreld waarin ons leef, beter leer verstaan; dit kan verandering verduidelik; dit kan ons voorberei op die toekoms; dit kan die gevaar van die gerug verslaan met harde feite.
2. Wat behels die joernalistieke beroep nog alles?
OERNALISTE kommunikeer elke dag met ons... meer as wat ons waarskynlik altyd besef. Want dis nie slegs koerante en tydskrifte waarin ons hul pennevrugte lees nie.
Ook die paar woorde op die koerantplakkaat teen die ligpaal, die keurige geskrewe mediese pamflet in die dokter se wagkamer en ’n magdom van sekere werklik gesaghebbende artikels op die internet—om maar ’n paar voorbeelde te noem—almal is deur joernaliste geskryf wie se groot taak dit is om die leserspubliek in te lig, op te voed, te lei of te vermaak.
Voeg nog daarby dat elke nuusflits wat op die radio en TV aan ons voorgelees word eers deur ’n professionele joernalis of joernaliste onder woorde gebring is, en ’n mens dink dalk onwillekeurig aan die ou gesegde dat “die pen magtiger is as die swaard”.
Joernaliste kan algemene beriggewing doen of in bepaalde onderwerpe spesialiseer. Daar is spesialisskrywers op die gebiede van misdaad en geregshowe, sport, die politiek, die ekonomie, onderwys en opleiding, kerksake, munisipale aangeleenthede, modeneigings, die kunste en baie meer. Verreweg die meeste van die artikels op die Mieliestronk-werf ressorteer onder opvoedkundige joernalistieke werk (kyk ook reg onderaan hierdie artikel).
Joernaliste praat in die reël van ’n onderwerp waaroor hulle skryf as ’n “storie” (Afrikaanstaliges doen dit al baie jare lank in navolging van hul Engelse kollegas se story). Beginners sal dikwels vind dat “stories” oor algemene nuusgebeure deur die nuusredakteur aan hulle toegewys word. Hulle sal miskien uitgestuur word om oor ’n groot padongeluk verslag te doen of oor ’n gewaagde kaping of bankroof.
Maar dit kan ook heel stemmige verslae insluit, wat wissel van ’n beriggie oor die stand van vandag se weer tot ’n verslag oor ’n nuwe biblioteekgebou by ’n skool. Hofverslaggewing word nietemin baiemaal as ’n goeie leerskool vir nuwelinge beskou.
Namate die joernaliste meer gekonfyt in hul werk raak, kan hulle hulle begin toespits op bepaalde terreine soos hierbo genoem of op, sê, gesondheid, kultuur, omgewingsake en nog wat.
HOEWEL verskeie vertakkinge van die mediawêreld in ons tyd bestaan, kan ons duidelik twee hoofstrome onderskei:
• Enersyds is daar die gedrukte media, wat veral koerante en tydskrifte insluit. • Andersyds is daar die elektroniese media, soos die radio en televisie, wat darem al ’n hele aantal dekades in ons midde is, maar ook die internet, wat in die afgelope jare die hele aangesig van kommunikasie verander het.
By sowel die gedrukte media as die elektroniese media is daar altyd ’n vraag na vindingryke en deeglike joernaliste, al sou daar ook wesentlike verskille wees in die maniere waarop hierdie verskillende mediastrome hul inligting insamel, inklee en weergee.
Joernaliste moet hulle normaalweg streng hou by spertye (Engels “deadlines”), met ander woorde hulle moet sorg dat hul werk betyds ingelewer word voordat die publikasie gedruk, die radio- of TV-program uitgesaai of sekere internet-artikels op die wêreldwye web uitgepos moet word. Joernaliste moet dus onder druk kan werk. Dit kan dikwels tot senuspanning lei, maar hulle moet dit kan hanteer.
Party joernaliste werk in hul eie kantore. Ander deel groot kantore saam met ander joernaliste. Van publikasie tot publikasie en elektroniese medium tot elektroniese medium verskil die werkwyses en maniere waarop die geskrifte geskep en bekend gestel word.
Maar almal werk vanselfsprekend vandag met rekenaars. Baie lank verby is die dae van daardie nou spreekwoordelike “pen”. Verby is ook die tyd van ratelende en klingelende tikmasjiene, wat met velletjies papier gevoer moes word, en van tikfoute wat versigtig met wit ink uitgewis of met balpuntpenne herstel is.
By koerante en tydskrifte het hierdie pogings op papier dan uiteindelik by die setters in drukkerye beland, wat die handgeskrewe en later getikte geskrifte nougeset gekopieer het deur dit in loodletters te set. In die nuwe era is setters en lood uitgefaseer en die persklaarmaking, trouens, feitlik die hele drukproses geskied met behulp van elektroniese middele.
Foto: U.S. Library of Congress
Dog hoewel die manier van doen met die ontwikkeling van die tegnologie grootliks verander het, sou ’n mens tog kan sê dat die taak en ingesteldheid van die joernalis steeds baie dieselfde is as voorheen.
Soos een gesoute persman dit stel: “Om ’n joernalis te wees, beteken doodeenvoudig dat jy in staat moet wees om die nuus te vind en dit oor te dra. Só was dit gister, só is dit vandag en só sal dit môre wees. En dit was nog altyd belangrik en sal belangrik bly dat die mense in hierdie beroep propperse agies moet wees, selfs loervinke—in die heel beste en goedigste sin van die woord!”
Só sal ’n ingebore nuuskierigheid of weetgierigheid, kortom ’n breë belangstellingsveld, dikwels die base imponeer wanneer die jong aspirant-joernalis om werk aanklop. Hy (of sy) moet ook maklik met mense oor die weg kom en goed met andere kan kommunikeer.
’n Aanvoeling vir taal en styl en ’n aanleg vir skryf is van kardinale belang, bowenal vir die koerant- of tydskrifskrywer, wie se pennevrugte altyd swart op wit vasgelê word. Dit kan met ander woorde altyd weer met aandag gelees word as die leser wil terugkom na wat daar geskryf staan. (Dit is ’n bietjie anders gesteld met die radio- of TV-beriggewer, wie se skryfwerk voorgelees word net om onmiddellik vir die luisteraar in die eter weg te sterf.)
Hoe ook al, die goeie joernalis, in watter mediastroom hy hom ook bevind, sal sy inligting duidelik, kompak en interessant moet kan oordra, in ’n taal wat maklik deur sy lesers, kykers of luisteraars verstaan word.
Baiemaal werk een joernalis alleen aan een berig of artikel. Partykeer, soos wanneer oor ’n kolossale ramp soos ’n tsoenami verslag gedoen word, sal ’n span joernaliste saamwerk om inligting in te win, om dit dan na ’n sentrale punt te kanaliseer waar een skrywer of ’n ander span die inligting of proto-berigte tot volwaardige berigte verwerk.
Dit is ’n universele reël in die joernalistiek dat niemand se skryfwerk so “heilig” behoort te wees dat niemand anders daaraan mag werk om dit te verbeter nie. ’n Mens sal dan ook herskrywers by baie publikasies kry wie se taak dit juis is om aan die vorm en styl van ingelewerde “stories” te slyp waar hulle dit nodig ag.
Uiteindelik gaan elke geskrif na die subredakteurs, wat die werk verder taalkundig en andersins sal versorg voordat dit gedruk, uitgesaai of op ander maniere versprei word. Subredakteurs is op sigself ook joernaliste, wat aangestel word op grond van hul vermoë om taal-, styl- en ander foute raak te sien, te waak teen laster en onnodig kwetsende woorde en sinne, asook om allerhande ander klaarblyklike “goggas” betyds uit te roei voordat die geskrif die wêreld ingestuur word.
Hulle skryf boonop die opskrifte van berigte of artikels, waar so iets van hulle geverg word. Die subredakteurs doen ’n baie belangrike werk, al verskyn slegs die skrywers se name dikwels by die gepubliseerde geskrifte.
3. Voordele van die joernalistieke beroep
IN beroepe sal soveel bevrediging as die joernalistiek verskaf vir die mens wat daarvan hou om met woorde te skep en belangwekkende inligting duidelik weer te gee. As hy of sy boonop ’n nuustreffer (Engels scoop) kan uitsnuffel wat opsienbarend is, is die joernalis in sy element.
Vir joernaliste is daar voorts baie meer geleenthede om met interessante en invloedryke mense kennis te maak, plekke te sien en dinge te ervaar as wat die deursnee-mens ooit beskore is.
Op ’n joernalis wat groot naam gemaak het as ’n deeglike en betroubare waarnemer, ontleder en verteller van nuuswaardighede, wag erkennings wat hom tot in die voorkamers van supersterre, magnate en selfs presidente en ander hoë leiers kan bring.
4. Nadele van die joernalistieke beroep
AIE afgetrede joernaliste sal kan getuig hoe hulle in hul loopbaan byna met hul beroep “getroud was”. Lang en ongereelde werkure is nie ongewoon vir joernaliste nie, omdat hulle dikwels buitenstyds “agter stories moet aanjaag” of in onvoorsiene tye belangrike berigte in die joernalistieke kantore moet verwerk.
By oggendkoerante moet hulle dalk van laat in die middag tot om middernag werk. By middag- en aandkoerante is die gereelde werktyd miskien van douvoordag tot in die middag. Radio- en televisieverslaggewers werk dag- of aandskofte. Tydskrifjoernaliste werk gewoonlik in die dag.
Maar die tyd waarin daar gewerk word, is selde vas soos byvoorbeeld vir winkelklerke of kantoorwerkers in die staatsdiens. Geen sterfling kan mos vooraf weet wanneer, sê maar, ’n vliegtuig gaan val met ’n land se hele rugbyspan aan boord nie. Of wanneer—om ’n meer ekstreme voorbeeld te noem—’n beroemde politikus skielik gaan uithaak en sy land se president se vrou as gyselaar in die parlementsgebou sal aanhou nie.
Die gejaag om spertye te haal, veroorsaak ook stres, soos boontoe in hierdie artikel vertel is. Tog is daar gebore “nuushonde” wat die opwinding en onvoorspelbaarheid van die joernalistieke milieu vir min ander beroepe sal verruil.
5. Vakke wat in matriek geslaag moet word om jou vir hierdie beroep te kan bekwaam (en ander moontlike vereistes)
LLE vakke wat die algemene kennis kan verbreed en ’n mens se gespesialiseerde kennis kan verdiep, is van waarde in die joernalistiek. Omdat verdere opleiding aan ’n universiteit of universiteit van tegnologie jou ’n goeie kans sal bied om later as joernalis aangestel te word, is dit belangrik dat jy in matriek ’n goeie slaagpunt sal haal.
As jy goed vaar in tale en die skryf van opstelle, bewys jy jou taalvaardigheid, maar ’n mens moet nooit vergeet nie dat die joernalistiek darem baie meer as ’n blote mooiskrywery van jou gaan verg.
Oplaas is dit belangrik dat jy vinnig moet kan tik—en as jy vroeg in jou lewe geleer het om dit met al jou vingers te kan doen, sal jy as joernalis nooit spyt daaroor wees nie. Daar is alte veel joernaliste wat steeds net met twee vingers moet regkom en dit nog altyd berou dat hulle nooit geleer het om sogenaamd blind te tik nie.
6. Universitêre of ander kwalifikasies wat benodig word
UID-AFRIKA het reeds beroemde joernaliste opgelewer wat geen graad of ander naskoolse kwalifikasie agter hul naam kon skryf nie. Dit toon dat talent en vermoë nie noodwendig deur ’n sertifikaat aan ’n muur bewys word nie.
Maar vandag is ’n graad (nie altyd in die joernalistiek nie) of ten minste ’n diploma (wel in die joernalistiek) beslis onder die belangrikste paspoorte na ’n joernalistieke loopbaan.
By etlike Suid-Afrikaanse universiteite kan nagraadse studente hulle vir ’n joernalistieke kwalifikasie inskryf waarvoor hulle ’n jaar moet opsysit. Sulke universiteite is dié van Stellenbosch en die Witwatersrand, asook die Rhodes-Universiteit in Grahamstad.
Só kan Matiestudente wat reeds ’n graad het—en ’n streng keuringstoets geslaag het—hulle vir die graad B.Phil.: Joernalistiek bekwaam. Omdat die joernalistiek so ’n groot verskeidenheid van vakrigtings omvat, word geen spesifieke graad of vakke vir toelating vereis nie en word die beroep trouens deur mense met uiteenlopende agtergronde verryk—wetenskaplikes, reggeleerdes, noem maar op.
By byvoorbeeld die Noordwes-Universiteit is daar weer ’n kursus oor vier jaar beskikbaar, waar studente ná drie jaar se studie in hul vierde jaar in een van die joernalistieke hoofstrome spesialiseer.
En by etlike van ons universiteite van tegnologie kan suksesvolle studente die inrigting ná ’n studie van drie jaar met ’n diploma in die joernalistiek verlaat. Hulle kan ook ’n jaar langer aanbly om die graad B.Tech. in Joernalistiek agter hul naam te skryf.
8. Bevorderingsgeleenthede
EVORDERINGS in die joernalistiek is so uiteenlopend as die verskillende vertakkings van die bedryf. Werkers van die gedrukte media kan miskien die leer bestyg deur van algemene verslaggewers en daarna spesialisskrywers tot spesialisredakteurs, assistent-redakteurs en uiteindelik hoofredakteurs te vorder. Daarna kan hulle straks in topbestuursposte aangestel word, indien die onderneming waarin hulle werk baie groot is.
Wat die radio en TV aanbetref, sou in die joernalistiek bes moontlik na die pos van die mees senior nuushoof gestrewe kan word. Maar verdere bevorderings tot in die heel voorste gestoeltes van die bestuur bly natuurlik ook steeds ’n moontlikheid.
9. Beroepe wat verwant is aan die joernalistiek
AAR is nogal baie. Die publisiteitsbeampte of skakelbeampte van ’n groot onderneming, die kopieskrywer van ’n advertensie-agentskap, die vertaler in die parlement, selfs die skrywer van romans of dramas en les bes die taalonderwyser, diesulkes en nog baie ander verrig sekere take wat met joernalistieke werk ooreenstem.
Dit is dan ook nie ongewoon dat sulke mense onderling van beroep verwissel om nuwe uitdagings in ’n verwante nering aan te durf nie. •
|
|||||||||||||||||||||||||